Die genade gawes Van God: 1Kor. 12:1-18 1 En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. 2 Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is. 3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees. 4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; 6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. 7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. 8 Want aan die een word deur die Gees n woord van wysheid gegee, en aan die ander n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 9 aan n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 10 aan n ander werkinge van kragte, aan n ander profesie, aan n ander onderskeiding van die geeste, aan n ander allerhande tale, aan n ander uitleg van tale. 11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. 12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. 14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. 15 As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?
16 En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? 17 As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? 18 Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. Ons sien uit die gedeelte dat God nie wil hê dat ons onkundig moet wees aangaande die geestelike gawes nie, net soos Hy aan elke mens verskillende vleeslike gawes gee, soms ook talente genoem, gee kry ons ook geestelike gawes. Ek sou eerder dit genade gawes wou noem omdat Hy dit uit genade vir ons skenk soos Hy dit wil. Die Griekse woord χαρισμα charisma verwys na die bonatuurlike vermoë wat ons, as God se kinders, deur die werking die Heilige Gees ontvang om die liggaam van Christus te dien. Die gawes deur die Heilige Gees aan God se kinders gegee, word in verse 8-18 beskryf. Drie sleutel verse wat die basis vorm van enige lering aangaande die gawes wat ook die werk (Persoon in beheer) van die Drieeenheid aandui. Net soos daar 'n baie fyn lyn tussen die Goddelike Drie-eenheid is, is daar ook 'n baie fyn lyn tussen die gawes, bedieninge en wonderwerke. Ons moet dit duidelik kan onderskei. 4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; 5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; 6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. 1. God die Heilige Gees is verantwoordelik vir werkinge van die gawes.
2. God die Verheerlikte Seun is verantwoordelik vir die bedieninge 3. God die Vader is verantwoordelik vir die wonderwerke. Die woord genadegawes spreek van n gawe (geskenk) wat ons deur die genade van God ontvang. Dit is nie die loon op enige arbeid van ons kant af nie, nee God gee dit verniet aan elke ware weergebore kind van God. Dan ook nie sommer aan enige kind nie, nee, slegs die wat hul daarvoor beywer. 1 Kor.12:31 Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle n nog uitnemender weg. 1 Kor. 14:1 Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer. 1Kor. 14:39 Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie. Kom ons kyk gou waarom sou die Gees waarsku om nie te verhinder dat daar in tale gespreek word nie. Ons vind geen ander waarskuwing aangaande die verhindering van al die ander gawes nie net die vir talespraak. Is dit nie dalk die rede waarom talespraak oor die algemeen, bykans 95 % van alle gawes in gemeentes vandag voorkom nie? Persoonlik meen ek die rede vir vermaning vir die verhindering vir talespraak is omdat daar mense is wat 1 Kor. 14:22 as verskoning voorhou en voorgee dat daar net gelowiges in hul gemeente is. Wie sê die vers dan 1Kor 14:22 Die tale is dus n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges. Die teksvers sê nie dat dit 'n sonde is om in tale te spreek indien daar nie ongelowiges teenwoordig is nie, luister vir die Gees. Dit gee net te kenne dat dit hoofsaaklik die gebruik is dat wanneer God deur die gawes met ongelowiges spreek gebruik Hy tale en uitleg en vir die gelowiges gebruik Hy profesieë.
Nog 'n verskoning vir die verhindering van talespraak vind ons wanneer Paulus oor lering in gemeente, en nie oor 'n boodskap van God af nie, praat. 1Kor. 14:19 maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in n taal. Hier bedoel Paulus die spreek van tale om homself te stig, dit doen hy erder by die huis. 1Kor. 14:1-5 1 Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer. 2 Want hy wat in n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. 3 Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. 4 Hy wat in n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente. 5 Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang. Nou waarom spreek die meeste mense in tale? Talespraak stig ek myself vers 4a Omdat daar vier verskillende tale uitings in Bybel voorkom is die mens geneig om die een met die ander te verwar. Hoewel almal tale spraak is, is almal anders.
1. Tale as enigste finale bewys dat die Heilige Gees volkome beheer van ons lewe oorgeneem het. Almal wat die evangelie geglo het, en hulle daarna laat doop het spreek in die tale, by die doping in die Heilige Gees wat deur sommige, wat die taal magtig is, verstaan kan word. Die spreker self ken beslis nie die taal nie. MK. 16:16,17 16 Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. 17 En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, 2. Tale en uitleg van tale, (gawe) 'n boodskap van God aan sy kerk wat deur iemand uit gelê word. (nie vertaal nie) Almal besit nie alle gawes nie, maar ons moet ons daarvoor beywer. 1Kor 14:5 Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang. 3. Tale boodskap, (gawe) 'n Tale boodskap van God vir 'n besondere persoon in hul eie of verstaanbare taal en word nie uit gelê nie. (spreker en meeste van hoorders ken nie die taal nie, soms net die persoon vir wie die boodskap bedoel is) 4. Tale gebed, 'n verborge taal wat deur niemand, nie eens die spreker daarvan, verstaan word nie, nee net God alleen verstaan die taal. 1Kor.14:2 Want hy wat in n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. Word vervolg...