1 Ned Geref Kerk Waterkloof Geloof Hoop Liefde Sewe doopbakkies by ons deure Vandag, Sondag 12 Februarie 2017, by die eerste Nagmaalgeleentheid van hierdie jaar, neem ons doopbakkies ter wille van doopherinnering by ons deure in gebruik. Dit is om verskeie redes gepas en nodig: Hervorming 500 jaar Ons vier vanjaar die 500-ste herdenking van die protestantse reformasie. Die bekendste protesteerder of hervormer, die Duitse monnik Maarten
2 (Martin) Luther, het op 31 Oktober 1517 byna n honderd stellinge op die kerkdeure van die universiteitsdorpie, Wittenberg, vasgespyker sodat dit bespreek kon word. Die pous van destyds het hom egter as ketter veroordeel. Die uiteinde van die protesstemme het nie net allerlei hervorminge (reformasie of veranderinge) vir daardie tyd selfs in die Rooms Katolieke Kerk - meegebring nie maar in die Gereformeerde kerke tot die blywende noodsaak van voortdurende kerklike hervorminge gelei. (Protestantse familie van kerke sluit oa Lutherse kerk, Anglikaanse kerk en Gereformeerde kerke in). In sommige Gereformeerde kerke is die saak van reformasie selfs in die naam opgeneem (bv Hervormde kerk, Nederduits Gereformeerde kerk en Verenigde Reformerende Kerk). Vir gereformeerdes is die ware aard van geloof dat dit wat God doen belangriker is en bly as wat die mens doen. Dit geld vir bekering tot geloof sowel as die uitlewing daarvan. Daarom is die kinderdoop vir gereformeerdes so belangrik. Die doop is n teken dat God ons eerste liefhet, n teken van God se genade (en nie eerstens van ons geloof nie). God se genade in sy skepping en verlossing gaan ons geloof, ons reaksie en ons verstaan vooraf. Daarom sing ons dat die Here ons verlos nog voordat ek kon kies, kon vra. So grondliggend is die verstaan van hierdie genade dat ons moet verander as dit wat ons doen belangriker sou word of belangriker sou lyk. Die karakter van Gereformeerde kerke word veral uitgedruk in die beginsel n Gereformeerde kerk is altyd aan die reformeer. Dit beteken nie allerlei veranderinge ter wille van verander nie maar reformasie omdat ons in elke nuwe tyd en omstandighede opnuut met die Bybelboodskap van God se genade worstel om dit getrouer te onderskei, te ervaar en toe te pas. Waterkloofkerk 60 jaar Ons gemeente vier vanjaar haar 60-ste verjaardag. Ons is trots op ons afkoms as n Gereformeerde kerk. Daarom waardeer ons die oorgelewerde liedere en gebruike. Ons stof sommige gepaste gebruike selfs af en stel dit
3 weer in gebruik. Ons kan nie staties wees nie maar wil ook opnuut onder leiding van die Gees soek en onderskei waarop die Here se liefde nou werklik neerkom. Met begrip en met fyn aanvoeling wil ons nou juis in n tyd soos hierdie ruimte skep vir n spiritualiteit en geloofsgewoontes waarin ons versterk word om in ons geknelde land n verskil ten goede te kan maak. Ons benodig simbole, sakramente en rituele Met die voordeel van terugkyk, kan ons sien dat die Reformasie ook swak nagevolge het soos kerkverdeling, volkskerke en rasionalisme. Ons rasionele erfenis het ons enersyds arrogant gemaak asof ons alles oor God kan verduidelik. Digters soos NP van Wyk Louw help ons gelukkig hiermee en herinner ons aan die misterie van God: Wat ek van mense of van God wil meen, word in my dofheid dof Iets staan in sterre-en helderte geskryf; en ek skryf ná in stof Ons rasionele benadering het ons as Gereformeerdes andersyds soms koud en klinies (en selfs veroordelend) gemaak en oor die algemeen arm aan simbole. In Negester oor Nineveh spreek DJ Opperman van die helende waarde van simbole en die behoefte dat sy kind simbole sal vind om sy geloof in homself terug te vind: Watter kaart en watter ster sal ek jou wys om veilig deur die grysland heen te reis? Vanuit verskillende oorde word ons aangemoedig om ons simbole te herwin en selfs nuwes te kry ter wille van heling en krag: Nuwe breinnavorsing en ons verantwoordelikheid met die vorming van breinselverbindinge en breinpaadjies deur ervaringe en gewoontes. Dit kom eintlik n ver pad met Aristoteles wat aangetoon het dat die herhaling van dade lei tot goeie gewoontes en goeie gewoontes lei tot n duursame karakter; Die aandagtigheidsbeweging (Mindful Revolution);
4 Die bevestiging van identiteit vanweë die gevaar van identiteitverlies in ons verbruikersamelewing; Die Jungiaanse sielkunde (die mens se onbewuste kommunikeer deur simbole); Die simboliek in verhale soos die bekende JRR Tolkien se The Lord of the Rings Die Bybelse gebruik van simbole, metafore, mites, gelykenisse, wonderwerke en tekens asook die fokus wat op die belang van die mens se innerlike die hart gelê word. Dink na oor hoe Jesus oor water, wyn, brood gepraat en gehandel het Die Kaapse sielkundige, Truida Heymann, verduidelik hoe simbole werk: Waar tekens soos taaltekens na n konkrete ding verwys, verwys n simbool na inhoude wat so diep en kompleks is dat n mens se bewuste denke dit nie kan begryp nie. n Simbool bevat altyd n element van vaagheid en onbewustheid en onverklaarbaarheid... Ons moet n vlam aansteek om die simbool se boodskap raak te sien. n Simbool is dus die brug of verbinding tusen twee werklikhede waarin ons leef. Cas Wepener, professor in geloofspraktyke en lidmaat van ons gemeente, pleit vir seremonies en rituele omdat ons veral tydens die groot oorgange van die lewe dit nodig het. Terwyl mens op n brug tussen twee lewensfases is, werk die rituele soos n wandelstaf, kruk of reling en kan mens deur aan dit vas te hou veilig anderkant kom. Verryking van sakramente: doopherinnering Terwyl die Rooms Katolieke Kerk sewe sakramente het wat soos relings lidmate deur die hele lewe begelei, het die reformasie meegebring dat die Protestantse kerke slegs twee sakramente, wat se fondamente duidelik in die Nuwe Testament is, erken nl die nagmaal en die doop. Augustinus se verduideliking van n sakrament, dat dit sigbare tekens van n onsigbare werklikheid is, help ons steeds. Die vraag wat reformerende gemeentes behoort te vra, is hoe kan ons die nagmaal en doop so inrig en bedien dat lidmate n voller betekenis daarin vind. Talle gemeentes het daarom die ou gebruik heringestel om die nagmaal by die tafel te gaan ontvang. Wat die doop betref, het die Algemene Sinodes van 2004 en 2007 alreeds gemeentes aangemoedig om gesamentlike doopvierings in die erediens te
5 ontwikkel en uit te bou en te besin oor toepaslike rituele waardeur gedoopte lidmate van die werklikheid van God in hulle lewe kan getuig. Die betekenis van die doop behoort op deurlopende basis beklemtoon te word sodat dit 'n lewende herinnering by lidmate sal wees. Reeds by die doopgeleentheid self kan 'n doopkers of sertifikaat oorhandig word aan ouers. As jaarlikse herinnering aan die doopgeleentheid kan die kers op die gepaste geleentheid aangesteek word. Dit is egter belangrik dat die gepaardgaande rituele van so aard is dat dit nie die indruk van herdoop sal wek nie. Water het as simbool verskeie betekenisse. Cas Wepener verwys na die misterie van water sowel as die teenstrydige betekenisse daarvan. Enersyds bring water lewe, reinig en verkwik dit. Andersyds kan water die dood en verwoesting bring. Dit word gebruik om mense in gemeenskap in te lyf en as simbool vir sterwe én opstanding. Luister na een van Cas Wepener se geloofsbelydenisse om die doopvont: Ons glo in die God van water wat n verbond met mense en diere gesluit het; ons glo in sy geliefde Seun oor wie Hy Hom verheug het, en in die Heilige Gees wat soos n duif neergedaal uit n oopgeskeurde hemel waar daar soms n reënboog is. Waterkloof se doopbakkies Terwyl talle gemeentes (bv Stellenbosch Moederkerk) bakkies van keramiek laat maak het, het ons besluit om die kiaathout en glas van ons liturgiese doopvont in die bakkies by die deure te herhaal. Simbolies en argitektonies hoort die doopvont eintlik by die deure om erediensgangers te herinner dat God ons eerste liefhet; dat ons alleen deur genade deel word van sy liggaam en deur genade toegang tot die erediens kan kry.
6 Ben Prinsloo, n gerespekteerde lid van Pretoria se houtwerkersgilde, het ons mooi bakkiehouers uit pragtige Afrika-kiaat gemaak en die Hugenotekruis wat hy uit Jelutonghout (Maleisië) met die hand gekerf het, aan die rugkant geplak. Hugenote-kruis (Croix Huguenote) Die kruis met sy bykomende simbole is ongelukkig byna vergete in ons kerke terwyl dit so n belangrike simbool is. Die waarde hiervan is nie tot die groot aantal Hugenote-families in ons land beperk nie. Hugenoot (in Frans: Huguenot, in Duits: Eidgenoss, in Nederlands en Afrikaans : Eedgenoot of dalk Huisgenoot!) is klaarblyklik die skeldnaam wat Franse katolieke in die 16de eeu aan Franse protestante (ook Calviniste genoem) gegee het. In 1533 - slegs enkele jare na Luther se optrede in Duitsland - moes die Franse regsgeleerde Jean Calvin (Johannes Calvyn) die leier van die protestante in Frankryk, vir sy lewe na Genève vlug. Bloedige godsdiensoorloë het in Frankryk van 1562 tot 1598 losgebars. In 1598 het koning Henry IV die Edik van Nantes uitgevaardig waardeur godsdiensvryheid aan die protestante verleen is. Waarskynlik is die Hugenote kruis ontwerp na aanleiding van die duifsimbool - kenteken van die Heilige Gees - wat Henry IV sou gedra het. Dit het n simbool van hugenote en ook ander protestante regoor die wêreld geword. Daar is verskeie variasies in die ontwerp van die kruis. Die mees algemene is die Kruis van Cevenole: Die kruis is saamgestel deur n Maltese kruis met vier arms wat elk ewe lank is en die vier Evangelies verteenwoordig. Elke arm word wyer hoe verder dit van die middelpunt af wegbeweeg en simboliseer die gelowige se innerlike transformasie (2 Korintiërs 3:18). Die buitekant van elke arm is in die vorm van n V vir ά (Grieks), vincere (Latyn), victory (oorwinning), deur Jesus Christus (Romeine 8: 36-39). Die twee punte aan die einde van elke arm, agt in totaal, verteenwoordig die agt saligsprekinge in Matteus 5:3-10.
7 Tussen die arms van die kruis is daar vier lelies, elkeen met drie blare wat die Drie-eenheid (of eerder Drievoudigheid) simboliseer. Die twaalf blare van die vier lelies verteenwoordig die twaalf apostels. Die lelie is ook n simbool van die opstanding van Christus én van God se sorg (Matteus 6:28). Die vier oop spasies tussen die arms vorm vier harte wat lojaliteit, die liefde van Jesus en die herinnering aan sy gebod, Om mekaar van harte lief te hê, simboliseer (Johannes 13:34). Die byvoegsel van n duif wat neerdaal, is die simbool van die Heilige Gees, God se teenwoordigheid onder ons. Na die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 het duisende Hugenote na Duitsland, Engeland en Nederland en vandaar af ook na ander lande soos die VSA en Suid Afrika gevlug. Sommige het in 1679 al aangekom en n groot groep in 1688. Wat doen jy by die doopbakkies? Almal hoef nie hieraan deel te neem nie. Vir baie sal dit genoeg wees net om te sien en te onthou. Lidmate wat gemaklik is met simbole en nuwe rituele, kan dit gebruik. As jy huiwerig of ongemaklik is oor nuwe gebruike behoort jy jouself eers tyd gee om hieraan gewoond te raak en nie te gou besluit: Dis nie vir my nie. Daar is geen voorgeskrewe reëls behalwe om respek te hê vir die simbool en mense wat die ritueel benut nie. Reëls en verklaringe vereng die waarde van simbole wat juis altyd meer is as wat mens kan sê. Sommige sal met die indruk van vingers in die water en die aanraak op die voorkop hulle bewussyn net herinner: Ek is gedoop!. Daarmee saam word die besef dat ons uit genade alleen aan die Here behoort, gekoester. Luther het dit klaarblyklik in sy worstelinge uitgeroep en dit orals neerskryf. Ander sal die kruisteken met die water op hulle voorkop maak en prewel: Jesus het ook vir my gesterf en opgestaan (water se dubbele simboliek).
8 n Mens kan ook n belydenis soos die van Cas Wepener (sien p 5) gebruik: Ek glo in God van water wat n verbond met mense en diere gesluit het... Daar kan ook lidmate wees wat die doopbakkies op verskillende wyses in die heilseisoene (kerkjaar) gebruik: Ek wag op u openbaring of My verlange is dat ek U in die gewone sal sien (Adventstyd); Dankie dat u Jesus gestuur het of Jesus is die Christus (Kerstyd). Die Here is my lig en my heil vir wie sou ek vrees? of In u Lig sien ek die lig (Epifanie); God bly teenwoordig - ook aan die kruis of Jesus het vir my gesterf (Lydenstyd); My selfsug sterwe en ek staan op in n nuwe lewe of Christus het opgestaan of Die dood is verslaan (Paastyd); Maak my van binne nuut of Ek behoort aan U, laat my so lewe (Pinkster); Maak my u getroue getuie of Seën my dat ek vir die aarde tot seën kan wees (Koninkrykstyd). Let wel geen reëls of n meer korrekte en minder korrekte manier nie. Benader die simbool met verwagting en doen die ritueel met n oop gemoed. Ons is almal verskillend gemaak. Wat die simbool vir jou sê en wat jy in die doen beleef, is al wat tel... Ons dank aan die kerkraad olv ouderling Marius (Tokkie) van Zyl wat hierdie projek geinisieer en ondersteun het. In besonder aan die diensgroep olv Lukas Raath en hulle insette. Mag die nuwe doopbakkies vir doopherinnering ons gemeente in die volgende 60 jaar en meer help om ons geloof in, ons hoop op en ons liefde vir God se genade te laat groei. Harm, Rykie en André, 12 Februarie 2017.