Teks: Matt 3:2; 11:28; 16:15-16; Hand 4:8-10, 18-20 God se Seun, Jesus Christus Vanoggend is ons by ons tweede tema: Deur die Kragveld van die Gees ONTMOET ek God Drie-enig: Wie is God die Seun?, of God se Seun, soos dit op ons buiteblad staan. Mense worstel al jare om vir Jesus in n spesifieke blokkie vas te vang. Daarom word dikwels gesê dat die Bybel slegs sekere temas vir Jesus het. So het mense gekom en gesê dat die manier hoe God Hom in Jesus aan ons wys word gesien in verskeie teologieë. Hierdie teologiee is ook dikwels gekoppel aan sekere eras in die geskiedenis van die wêreld. Daar is onder andere die: Teologie van die revolusie (R Shaull, en andere) toe daar gewelddadige opstande en rewolusies teen bestaande gevestigde regerings was. Teologie van die bevryding (G Gutiérrez toe daar die bevryding van die onderdrukking van sekere groepe was teenoor n groepering wat bevoorreg is, soos ons in Suid-Afrika gehad het. Teologie van die hoop (J Moltmann) toe daar sekere mense was wat in moeilike omstandigehede was wat hoop nodige gehad het. Teologie van die kultuur (Paul Tillich), ensovoorts soos die tyd waarin ons nou leef waar die klem onder andere op die bewaar van die eie en die natuur geplaas word.. Teologie van liefde (deesdae die gewilde tema) soos in die tyd waarin ons vandag leef waarin mense indiwidualisties is, en die klem op die aanvaarding van die enkeling geplaas word. Liefde beteken dus dat God almal aanvaar ongeag wie hulle is, en wat hulle doen. Al hierdie verskillende teologieë, of maniere van die lees van Die Bybel is gebaseer op die oënskynlike werk wat Jesus op aarde gedoen het. Mense sê dat dit die kern van Jesus se bediening is. Die probleem hiermee is dat soos die tyd verander, mense ook elke keer die kern van Jesus se bediening iets anders maak en dit kan tog nie! Dit beteken heel eenvoudig dat Christengelowiges toelaat dat hulle omstandighede hulle lees van Die Bybel beïnvloed en dit kan tog ook nie. Die Bybel word dus níé gelees vanuit wat Die Bybel self sê nie, maar vanuit wat die behoefte van die samelewing op n bepaalde moment is. Dit is níé die manier hoe ons Die Bybel lees nie. As ons wil beweeg In die Kragveld van die Heilige Gees, moet eerder kyk wat sê Die Bybel oor Jesus as God se Seun sê, en dan die vraag vra, wat daardie boodskap vir die jaar 2016 vir elke Christengelowige in Lynnwoodrif Gemeente, en elke mens in die wêreld is. Dan beweeg ons binne die Kragveld van die Heilige Gees. As ons dus oor die Drie-eenheid preek is twee dinge vir vanoggend baie belangrik. Ons moet kyk wat die tradisie van die Kerk oor Jesus gesê het, en ons moet veral kyk wat Die Skrif oor Jesus as geïnspireerde Woorde van God sê. Die tradisie van die Kerk het drie ekumeniese Geloofsbelydenisse opgestel. Hierin word pertinent na Jesus verwys Ek wil slegs die Apostoliese Geloofsbelydenis neem wat waarskynlik vanuit die eerste of tweede eeu na Christus opgestel is as voorbeeld van die tradisie van die Kerk. Kom ons ons bely hardop saam: Ons glo in Jesus Christus, sy Eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die Bladsy 1 van 8
regterhand van God, die almagtige Vader. Apostoliese Geloofsbelydenis Dan is daar Die Skrif ook. Vanuit die Skrif is daar Jesus self, die Evangelies, en dan die verskillende Bybelboeke self. Vanoggend gaan ons eerder kyk na wat Jesus, en die sommige Bybelboeke oor Jesus Christus sê. Laat ek net weer dit herhaal. Ek behandel nie vanoggend die hele gespreksgroeptema nie, maar slegs die tema wat oor die Koninkryk van God gaan. Ek voeg dan n deel by wat oor die siening van die verskillende Bybelboeke gaan, dit kom nie in die gesprekstemas voor nie. Die deel wat ek uitlaat, is dan vir verdere uitbreiding van julle kennis van Jesus Christus gedurende die week: Die belangrikste ding vir ons as Christengelowiges om oor Jesus te weet, is dat Hy die Koninkryk van God gebring het. 1. Jesus sê: Ek bring die koninkryk van God! (God se nuwe wêreld) Die inhoud van die God se Seun se bediening: Ons het verlede Sondag reeds gesien dat Jesus die Seun van God is, en daarom God is. Ek gaan dus nie vanoggend daaroor bedien nie. Nee, ek wil meer oor dit wat Jesus kom doen het leer. Ek gaan ook nie preek oor die wonderwerke, genesingswonderwerke en gelykenisse van Jesus nie. Ek wil oor Jesus as God se Seun preek. Wat was die inhoud van die bediening van Jesus as God se Seun wat Hy op aarde kom doen? Hoe kan ek dit beter doen as om na Jesus self te kyk. Wat het Hy oor Sy eie bediening gesê? Koninkryk van God: Om te verduidelik wat die bedoeling is wanneer na die koninkryk van God verwys word, is baie moeilik. Dit kom uit die Ou Testamentiese verwysingsraamwerk waar die Jode n Joodse koninkryk gehad het, en weer die herstel daarvan verwag het. Jesus kom en bring nie die aardse politiese koninkryk nie, maar die Koninkryk van God en die hemele. Die Boodskap vertaal die begrip koninkryk van God elke keer konsekwent met God se nuwe wêreld. Jesus het meer as 100 keer na die koninkryk van God / hemele verwys, want dit was die tema van Sy hele bediening. In Jesus se bediening het dit n ewigheidsperspektief wat alles en almal raak. Niemand word uitgesluit nie. Omdat Jesus mens geword het, is dit ook nie maar net n vae profesie nie, dit het n realiteit geword. Ons kan nie hierdie tema wat Jesus preek en gedoen het, die koninkryk van God, in begrippe vasvat nie, maar dit dui aan dat God se algehele oorwinning oor sonde, dood, siekte, die bose, die hel, politiek, liefdeloosheid aangebreek het. Die aanbreek van God se Koninkryk (of die koms van Jesus na die aarde God se nuwe wêreld wat aanbreek) kan dus nie in slegs een tema wat mense uitlig beskryf word nie, want dit is te eng. Die Koninkryk van God of God se nuwe wêreld, dui dus daarop dat Jesus kom reg maak het wat deur sonde verkeerd gemaak het, en dit het op baie verskillende vlakke gebeur Johannes en Jesus: Beide Johannes die doper en Jesus self, sien Jesus se bediening as die bring van God se koninkryk, of ook die koninkryk van die hemel. Wanneer Johannes begin preek voorspel hy ook die koms van die koninkryk wanneer hy sê:... en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Mat 3:2 NAV Julle lewe moet radikaal verander, want God se nuwe wêreld is op hande Matt 3:2 Die Boodskap Jesus sê wanneer Hy begin met Sy aardse bediening, én wanneer Hy Sy aardse bediening afsluit, doen Hy dit met die verkondiging van die Koninkryk van God. Ons lees Bladsy 2 van 8
dat Hy se: Van toe af het Jesus begin preek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Mat 4:17 en wanneer Jesus afskeid neem: In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. Hand 1:3 NAV Hy het toe gereeld met hulle oor God se nuwe wêreld gepraat Hand 1:3 Die Boodskap Ek het reeds gesê dat wanneer Jesus oor die koninkryk van God, en die koninkryk van die hemele praat, is daar n groot verskeidenheid van dinge waarna Hy verwys. Dit is hierdie dinge wat ons in ag moet neem as ons aan die wese van Jesus se bediening dink. Ek gaan slegs enkele belangrike aspekte uitlig wat vir ons die karakter van Jesus Christus aantoon: a) Dit is die koninkryk van God ons Vader: Jesus wys daarop dat die koninkryk van God en God se nuwe wêreld wat Hy gebring het, aan God ONS Vader behoort. Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom;... Matt. 6:9-10 Dit is belangrik om hierdie gebed te verstaan. Hierdie gebed sê dat die breuk wat met die sondeval tussen ons en God plaasgevind het, herstel is. Ons is nou nie meer kinders van die Satan nie, maar kinders van God. Daarom behoort God se koninkryk ook aan ons. Ons is dus nie net God se kinders nie, maar per implikasie ook prinse en prinsesse in Sy Nuwe Ryk. Ons lees dat Petrus sê Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom,...1 Pet 2:9 Net soos Jesus deur die bring van die koninkryk ons verhouding met God herstel het, het Hy ook die bose oorwin. b) Jesus en die Gees het die Satan en bose oorwin: Deur Jesus se aardse bediening wys Hy sy mag oor die bose, en dryf duiwels uit. Dit doen Hy saam met die God die Heilige Gees. So werk beide, Jesus en die Heilige Gees nou mee om die Koninkryk van God te bring. Dus dui die bediening van Jesus dat Hy die bose oorwin het, en dat daar n noue band tussen Hom en die Heilige Gees is. Hier vind ons reeds die spatsels van die Drie-eenheid (ontmoet die God Drie-eenheid). Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. Mat 12:28 So dui Jesus dus dat die Christengelowiges nie in vrees vir die Satan op aarde hoef te leef nie. Die bediening van die Heilige Gees bring saam met Jesus God se nuwe wêreld na ons toe, en dit beteken dat ook ons die Satan en sy aanvalle steeds vandag kan oorwin. c) Dit is koninkryk wat wat ons oproep tot vergifnis en ons dring tot sending: Vir Jesus gaan die boodskap van die Koninkryk van God veral daarom dat mense in vrede met God en mekaar sal leef, en dat ons aan ander mense sal vertel hoe hulle gered kan word Hy sê: Vergewe: Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het.... Die koning het hom Bladsy 3 van 8
jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. Matt. 18:23-26 Verkondig evangelie: Toe sê Jesus vir hom: Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God. Luk. 9:60 Dit boodskap vir ons dus baie duidelik: Omdat God ons in Christus vergewe, daarom MOET ons wat deel in van God se familie ander gelowiges vergewe wat ons seer maak ons het nie n keuse nie. omdat God ons deur Christus vergewe moet ons prioriteite ook reg wees. Die redding van mense is belangriker as om aandag aan ons daaglikse dinge te gee. Daar doen ons alles in ons vermoë om ander mense die goeie nuus van verlossing en redding te vertel. d) Gelowiges lewe heilig radikaal vernuwe: n Belangrike aspek van die Koninkryk van God is dat dit om mense gaan. Omdat dit om mense gaan, gaan dit om mense se gesindheid, gedagtes, woorde en dade. Dit gaan daarom dat wie Jesus volg n nuwe lewe het, en anders leef as vroeër. Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie. Mat 5:20 Ons moet mooi verstaan wat Jesus hier sê. Hy sê in die eerste plek dat ons die wet steeds moet onderhou, maar met n ander gesindheid as die van die fariseërs en die Skrifgeleerdes. Hulle het die wet bloot om tradisionele redes onderhou omdat hulle moes. Ons onderhou die wet om ander redes. Ons onderhou die wet omdat ons Jesus en God Drie-enige lief het. Ons onderhou die wet omdat ons dankbaar vir ons verlossing is. ons onderhou die wet omdat ons burgers van God se koninkryk is. Dit beteken dat ons heilig sal leef en die karaktertrekke van die Koning van die koninkryk vir die wêreld sal wys. Die laaste aspek wat ek wil uitlig wat Jesus gedoen het deur die koninkryk te bring, was dat Hy die Kerk begin het. e) Die Kerk van Jesus Christus is begin: Die Koninkryk van God, volgens wat Jesus gepreek het, hou ook verband met die Kerk op aarde. Ons lees dat waar Jesus as Here en Christus bely word, daar is die Koninkryk van God. Jesus se: Maar julle, het Hy gevra, wie, sê julle, is Ek? Simon Petrus het geantwoord: U is die Christus, die Seun van die lewende God.... Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. Matt. 16:15-19 Ons glo dat dit die gedeelte is waar Jesus die Kerk amptelik begin het die sleutels van die Koninkryk. Dit is die plek wat die sleutels het om mense in te lei na die ewige lewe. Hier vergader die mense vir wie die lewe n oopdeur na die hemel gekry het. Die koms van Jesus Christus, is dus direk die oorsaak dat hierdie gemeente, Lynnwoodrif Gemeente begin het, want ook hier bely ons dat Jesus die Seun van die lewende God is dis tog waaroor ons reeks gaan. Só het Jesus dus die fokus deur Sy bediening op God gefokus God se nuwe werld, of die Koninkryk van God. Ons het nou gehoor hoe Jesus Homself en Sy bediening gesien het. Om die wese van Jesus as die Seun van God beter te verstaan, is dit belangrik om ook te verstaan hoe die onderskeie Bybelskrywers in die onderskeie Bybelboeke Jesus Bladsy 4 van 8
verduidelik. 2. Ander Bybelboeke (Bybelskrywers) se verduideliking wie Jesus werklik is Uit die aard van die saak kan ek nie in een enkele preek na al die Bybelboeke in die Nuwe Testament kyk om te verduidelik hoe dit Jesus beskryf nie. Dit is egter belangrik om te weet dat elke Bybelboek n ander aspek van Jesus se uniekheid as God se Seun beklemtoon. Vir die doel van hierdie preek gaan ek egter ter wille van die tyd slegs n seleksie van drie Bybelboeke (Bybelboekgroepe) in die Nuwe Testament maak. a. Romeine tot Galasiërs: Jesus is die Here (Koning) en Redder Boodskap van verlossing: Alles wat Paulus oor Jesus skryf kan ons saam vat in die een belangrike gedagte dat Hy gekruisig is, gesterf het, maar dat God hom nie in die steek gelaat het nie. God het Christus uit die dood opgewek. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God en kan ons gered word. Daar is egter iets wat hierby gekom het. Paulus het iets persoonliks by hierdie stukkie gevoeg want Hy was 100% seker dat dit wat Hy oor Jesus gesê het waar is, omdat Hy Jesus self met sy eie oe gesien het. Ons lees: Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 1 Kor. 15:3-9 Dit is n n groep: Daarom is dit vir hom baie duidelik: wie in Jesus glo sal gered word. Hy voeg egter iets by n tweede saak. Ek het verlede week hierna verwys: dit is dat ons as Christengelowiges deel is van God se familie, gesin. Anders as vandag is die mens nie n enkeling of individualisties soos in die jaar 2016 nie. Nee, die gelowiges is groepsmense. Christene vorm daarom deel van Jesus se groep, of die gesin van God die Vader van wie Jesus die oudste Broer is. Daarom dat hy se: Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.1 Kor 12:12 Dit beteken dat alles Christengelowiges saamwerk om die gemeente op te bou en uit te bou sodat ons groei. Ons groei en word groter soos n baba wat n grootmens word. Dit beteken dat nie een van ons wat hier is vanoggend agteroor kan sit en in hierdie gemeente niks kan doen nie. b. Kolossense: Fokus op Jesus, Hy is die skepper van die kosmos Dwaling: Die boek Kolossense is geskryf om n klomp verkeerde idees oor Jesus reg te stel. Daar was n groep wat Joodse, heidense en Christelike idees vermeng het en toe n soort nuwe godsdiens begin het. Dit het die plek van Jesus in gedrang gebring. Hoewel Jesus steeds daar was, het hulle belangriker plekke aan engele en tradisies begin gee. Daarom word gewaarsku teen sulke dinge, want dit is dinge wat Christus minag. Ons lees: Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is Bladsy 5 van 8
alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Kol 2:16-19 Vandag: Dit is n baie relevante tema ook vandag. Die televisiereeks Touch by an Angle, is n tipiese voorbeeld waar die aandag op engele geplaas word, en nie meer op Jesus gefokus word nie. Die mense wat dikwels oor hulle drome praat, en dit as die waarheid wil uitlê, of visioene sien asof dit van die Here kom, is n tipiese voorbeeld hiervan. Die Woord sê dat Jesus as God se Seun so belangrik in jou lewe moet wees, dat jy nie plek vir hierdie goed mag he nie. Jesus die Skepper: Daarom word daar baie tyd gespandeer om te verduidelik hoe belangrik Jesus eintlik is hoe groot en sterk Hy is. Oor Hom lees ons: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. Kol 1:15-18 Toepassing: Soos in die vorige deel is dit dus duidelik dat alles in die lewe, gister, vandag en more oor Jesus gaan. Jesus neem dus naas God die Vader die eerste plek in die heelal in, wat Hy is die Seun van God Hy kan nie gesien word nie God het deur Hom geskep Hy is die Hoof en oorsprong van die kerk Hy het uit die dood opgestaan, en Hy neem die eerste plek in die heelal in. Dus is die vraag aan jou: Is God se Seun dan so belangrik in jou lewe dat jy aan Hom so n belangrike plek in jou lewe gee? Ek sou oor al die ander boeke ook iets wou sê, maar die tyd laat my nie toe nie. Ek wil nou wys hoe die apostel Johannes in die Boek Openbaring Jesus beskryf veral in die tyd waarbinne ons leef. c. Openbaring: Jesus, die Lam van God wat regeer. Konteks: Ek neem die boek Openbaring omdat Jesus waarskynlik hier beskryf word in so n konteks wat vir ons vandag in ons Suid-Afrikaanse politieke konteks die meeste betekenis het. Die boek Openbaring is geskryf om Christene wat onder die Romeinse Ryk vervolg is, te bemoedig. Oral waar hulle gegaan het, moes hulle hoor hoe wonderlik die Romeinse Ryk is en selfs is hulle vertel hoe groot die keiser is. Hulle was n baie klein minderheidsgroepie, en vir hierdie klein minderheidsgroepie was dit nie maklik gewees nie. Hulle het in n konteks geleef waarin hulle later die keiser moes aanbid. Ons aanvaar vandag dat die vervolging onder keiser Domitianus (81-96 n.c.) die konteks van die boek Openbaring is. Die gelowiges is selfs dood gemaak vir hulle geloof. Die boek is geskryf binne n situasie wat opgeloop het na die vervolging van die Christengelowiges. Die ander werklikheid: Daarom bemoedig die Openbaringboek hulle dat daar n ander werklikheid as hulle ervaring binne hulle politieke werklikheid is, en dit is God se Bladsy 6 van 8
werklikheid. Volgens God se werklikheid is die magtige Romeinse Ryk klein. Jesus is Magtig: Jesus word eerstens uitgebeeld as die magtige Heer voor wie alles en almal sal en moet buig. Daar staan: Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. Open 1:12-18 Jesus die goeie Regeerder: Jesus as die Lam (αρνιον) kom 28x in Open voor. In die destydse konteks is n Griekse woord vir Lam gebruik wat anders is as wat ons vandag aan n lam verbind. Ons verbintenis aan n lam is iets wat hulpeloos is. Iets soos die Lam wat geslag is waarvan ons ook in Open lees wat dui op Jesus se kruisiging. Open. ken die begrip Lam egter ook as n Leier en magtige Regeerder, Een wat saam met God op die troon sit (Open 22:1) en wat Sy volgelinge lei en beskerm. Daar staan: Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en 'n hittegloed ook nie, want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog. Open 7:16-17 (vgl Joh 10; Ps 23:1-3 en Op 21:1-5) Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. Open 22:1 As die Christene dus hierdie gedeeltes gelees het, het hulle bemoediging gekry. Hulle het besef dat Jesus groter, sterker en beter as hulle omstandighede. Hoewel hulle die negatiewe omstandighede in hulle huidige konteks ervaar het, het hulle besef dat Jesus saam Met God die Vader regeer, en dat Hy hulle posisie weer sal herstel. Jesus is dus baie groter as wat die gelowiges gedink het. Hoewel hulle deur moeilike tye gegaan het, is Hy die Een wat saam met God die Vader op die troon sit en is Hy die Een wat hulle ook in hulle vervolging sal help. 3. Kom na My toe Deur die Kragveld van die Gees ONTMOET ek God Drie-enig: Wie is God se Seun Wanneer gewone mense hierdie Seun van God ontmoet, dan verander dinge in hulle lewe, dit is tog logies. Die verraaier Petrus ontmoet Jesus deur die kragtige werking van die Heilige Gees in Joh. 21 en sy lewe verander permanent. Ons lees daarvan: Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: Raadslede van die volk, en familiehoofde, julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie. Hand 4:8-12 Em verder ook: Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle Bladsy 7 van 8
gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie. Hand 4:18-20 As ons dus aan ons tema dink: Deur die Kragveld van die Gees ONTMOET ek God Drie-enig: Wie is God die Seun, dan is dit duidelik dat n ontmoeting met hierdie Seun van God so groot is dat die Heilige Gees jou dring om te praat sodat die gemeente sal groei. Christus is nie n stukkie teologie wat jy kan verkondig en uitdink soos die tydsgees verander nie, nee Hy is te groot daarvoor. Hy verteenwoordig te veel, en is te veel. Hy bring aanbidding in jou te weeg. Hy laat jou die wêreld verander want Hy is self God ten volle. Jy kan Hom net deur die Woord leer ken, nie in die tydsgees nie. Hy moet die tydsgees aanspreek en verander, want Hy het die koninkryk van God in die wêreld gebring. Die wêreld het nie in die koninkryk van God aangebreek nie, nee, andersom. Waar staan jy met Jesus vanoggend? Bewonder jy Hom wat God se Koninkryk, die Onverstaanbare koninkryk van God, gebring het en so kom reg maak het wat met die sondeval verkeerd gegaan het? Bewonder jy Hom omdat daar soveel verskillende kante van Hom is, wat jy nie ken nie, en waarvan jy net in verwondering kan staan? Het jy Hom al ONTMOET sodat jy in die krag van die Heilige Gees gedring is oor Hom te praat wanneer ander sê dat jy moet stilbly? Amen. s. Bladsy 8 van 8