Ef 3:14 21 Paulus se Tweede Gebed Robertson (14/08/2016) Ef 3:14 21 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader [van onse Here Jesus Christus], (15) van wie elke geslag [/familie/gemeenskap] in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, Paulus se tweede gebed: klimaks van sy bespreking van die Een Nuwe Mens waar daar geen onderskeid tussen Judeër-gelowiges en Heiden-gelowiges meer is nie. Dit gaan oor wat die praktiese uitwerking van hierdie Een Nuwe Mens. Dit gaan oor hoe dieselfde krag van God wat hierdie Een Nuwe Mens geskep het ons individueel en persoonlik verander. Paulus wat sy knie hier buig dui daarop dat Paulus buig voor Christus se kosmiese heerskappy. Hy erken dat Jesus as die ware Messias reeds die Heerser en Koning van die hele heelal is dat sy Messiasskap alle aardse verwagtings van Messiasskap vervul en oortref het. Want Jesus het die naam bo alle name. Elke knie sal voor Hom buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is (Flp 2:9-11). Paulus sê dat elke familie of geslag in die hemele en op die aarde hulle naam ontvang van God die Vader. Wat beteken dit? Die hemelse families is klasse/groeperings/hierargie van engele en geeste = goed en sleg. Maar Jes 40:26 gee n goeie begrip hiervan: Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare [heavenly hosts] uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. vgl. Ps 147:4 Dat hulle n naam ontvang dui dus daarop dat God hulle geskape het, en dat Hy beheer uitoefen oor hulle, en dat hy aan hulle elkeen n bepaalde rol gee. (16) dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, Paulus bid dat ons die mag en krag sal ontvang om versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens. Hoekom? Want ons het krag nodig om te leef vanuit die waarheid van die Een Nuwe Mens te midde van teenstand en te midde van n wêreld wat ingestel is op aardse mag en beheer, en n aardse koninkryk verwag (nie net i.t.v. n moderne Joodse eindtydverwagting nie, maar ook t.o.v. die antisipering van n een-wêreld-regering). Paulus self het baie verdrukking daarvoor ervaar (v. 13) en mens het krag nodig te midde van verdrukking. Daar is baie meer vervolging en verdrukking van Christene vandag as wat ons besef of dalk wil toegee. Dit is dikwels subtiel. Die agenda van politieke korrektheid is aan die orde van die dag. Dit sluit dinge in soos die Bybelse standpunt oor homoseksualiteit, die hoofskap van die man in die huwelik, maar ook hoe ons Judaïsme sien. 1
Maar dit gaan oor baie meer. Ons moet versterk word na die innerlike mens. Dit is hier waar die ware toets is of mens bloot religious is, en of jou innerlike krag werklik van God kom. As jou Christenskap geneig om te verval in n uiterlike vorm, (1) gaan jy jouself uitbrand Christenskap gaan vir jou te veel raak en jou ooreis. Dit is wat godsdiens doen. (2) gaan jou fokus nie wees op die Bron, Christus, nie, maar gaan draai om jou eie prestasie. (3) gaan jy na iets anders gryp wat vir jou kan inspireer, bv. n vreemde, mistieke of okkultiese lering. (4) gaan jy gryp na n soort identiteit waarin jy uitstaan bo die res of bo die ander, wat jou anders maak as hoofstroom Christendom, om raakgesien te word iets waarin jy rebelleer. Baie mense vind hulle identiteit daarin om anders te wees en in te rebelleer. Enige iets, solank jy net stroomop is. Maar as (1) jou identiteit in Christus is, maar veral (2) as jy jou innerlike krag van Christus is, dan weet jy dit is al wat jy nodig het. Trouens, dit oortref dit wat jy dink jy nodig het. Jy hoef nie iets by te voeg nie. En jy weet dat jy van Christus afhanklik is vir wie jy is, wat jy is, en vir hoe jy leef. Dan kan jy in Christus rus. As jy nog nie hierdie innerlike krag in jou lewe ontdek het nie, dan moet jy hierdie gebed bid. Ons kan nie hiersonder nie. Ons kan nie in ons eie krag staande bly nie! Ons kan nie ons identiteit, ons vrede, vreugde of vervulling in enige iets of iemand anders vind as die openbaring van Christus in ons nie. Want, glo my, jy staan of in jou eie krag, of jy staan in die krag van die Here! Daar is nie n middelposisie nie. Veral as daar vervolging of verdrukking is. 2 Kor 4:16-18 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. (17) Want ons ligte verdrukking wat vir n oomblik is, bewerk vir ons n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; (18) omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. (17) sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon Dis belangrik om hier te sien dat Christus in ons woon as gevolg van die krag waarmee ons versterk word. As ons nie met krag versterk word nie, kan Christus nie in ons woon nie (op die manier hoe Christus se woon hier gekwalifiseer word nie)! Maar wat beteken dit dat Christus eers in ons woon as ons met krag versterk word? Woon Christus dan in in ons by wedergeboorte nie? Tensy hierdie n gebed is vir wedergeboorte, wat onwaarskynlik is. Paulus bid hierdie gebed vir gelowiges. Dit gaan beslis hier oor meer as dat Christus in ons woon by wedergeboorte. Dit gaan daaroor dat Christus as t ware tuis by jou; Hy is die middelpunt en diep gewortel in gelowiges se lewe. Christus moet die beherende faktor word in alles wat jy is (identiteit) en doen: in jou gesindhede en optrede. Waarop dui die hart hier? In 1:18: verligte oë van julle hart ; in 5:19: integriteit van aanbidding: sing uit julle hart ; in 6:5: die motivering vir gehoorsaamheid: ons moet gehoorsaam wees in opregtheid van hart. Iemand wat hard is van hart is iem. wat van die lewe van God vervreem is (4:18). 2
Die hart is middelpunt van n persoon = innerlike mens. Dit wys waar is jou fokus. Jou hart sê vir ander mense en vir jouself waarvoor en vir wie jy lewe. Lewe jy vir jouself? Lewe jy vir iets materiëel en tasbaar? Of let jy op die onsigbare dinge (2 Kor 6:18)? Die feit dat Christus in ons woon ( dwell ) wys ook daarop dat ons God se tempel en sy woning is. Die OT tempel is dus vervul en vervang in Christus. Dit hang ook saam met die Een Nuwe Mens wat God kom skep het. Deel van die nuwe skepping is dat aanbidding nie meer verbonde is aan n sekere plek of gebou op aarde nie (Joh 4:24). 2 Kor 6:16 sê: Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My n volk wees. Christus se inwoning in ons vervul dus Lev 26:12 en Eseg 37:26-27. Dit is ook deel van Christus se kosmiese Messiasskap wat reeds in vervulling gegaan het. Dat Christus in ons woon, beteken dus ook dat ons sy Heerskap en Hoofskap in ons lewens ervaar, en dat dit sigbaar word in ons lewens. (17) julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, Dit gee die rede vir die gebed. Jy kan ook vertaal: sodat julle, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is. Wie se liefde? Dit kan nie op God of Jesus se liefde wys nie, want daar is nie n genitief in die Grieks wat dit so definieer nie. Dit is die gelowige se liefde, maar hierdie liefde vind sy oorsprong in God. Soos 1 Joh 4:7-8 sê: Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. (8) Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. Maar dit is steeds ons liefde ons liefde vir Christus en ons liefde vir mekaar. Ons is in hierdie liefde wat van God kom gewortel en gegrond. Dit beteken dat dit ons anker is. Dit beteken dat jy nie liefde vir God en vir ander hoef op te werk nie. Dit beteken dat jy nie anders kan nie, want jou hele wese is daarin geanker. Dit is waarvoor Paulus bid. En weereens, hoe dieper ons in die liefde gewortel en gegrond is, hoe minder is ons in onsself en ons eie identiteit gewortel en gegrond hoe minder is ons in self-liefde gewortel en gegrond. Om veranker te wees in liefde vir God, kan nie tegelykertyd ook veranker wees in liefde vir jouself nie! Die prioriteit van hierdie liefde is God, en dan jou naaste (soos in die Groot Gebod). As jou liefde nie oorgaan in spontane naasteliefde waarin jy ander mense hoër ag as jouself nie (Flp 2:3), dan is jy nog nie gewortel en gegrond in die liefde nie. 3
Baie mense sê jy moet eers jouself liefhê, en moet dan op grond van jou self-liefde God en ander liefhê. Maar dit is nie wat die teks sê nie. Elke mens het in elk geval hom- of haarself lief, in watter vorm ook al: (1) bv. om jouself eerste te stel in alles, deur net aan jouself te dink (= trots), (2) of om jouself te bejammer, te voel die lewe skuld jou, of jou eie probleme en soeke na aanvaarding die middelpunt te maak tussen ander gelowiges. Hoekom? Om weereens die aandag op jouself te plaas (= minderwaardigheid). Trots en minderwaardigheid is twee kante van dieselfde munt. Dit gaan oor jouself. Jyself is in die middelpunt van jou identiteit. Ware liefde is altyd gegrond en gewortel in die liefde wat God deur Christus in ons harte uitgestort het (Rom 5:5). Hierdie liefde hou jou dus in n posisie waar jy jouself ondergeskik stel aan God en jouself nie hoër ag as God nie. Dít is die kern van Bybelse liefde: Hy moet meer word en ek minder! (18) en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, Hier is die volgorde: krag > Christus woon > gewortel in liefde > begrip Hierdie is n ontsettende belangrike beginsel. Ons wil dikwels eers begryp voordat ons toetree tot iets. By wie van julle is dit so? Dit geld veral vir mense wat buite die geloof staan. Maar die probleem is, ware kennis wat n verskil maak in ons lewens is ervaringskennis. Dít is die kennis wat eintlik belangrik is. Dit is die kennis wat ons gemoedsrus en sekerheid gee. Dit is die kennis wat niemand van ons kan wegvat nie. Kopkennis is onstabiel, want menslike verstaansvermoë en menslike denke is beperk en gebroke. Maar ervaringskennis is kennis in ons gees en in ons hart. Dit is verhoudingskennis wat ons eerstehands opgedoen het. Ons moet die volle breedte, lengte, diepte en hoogte van hierdie krag- en liefdesopenbaring van Christus sien en ervaar. Dit is in hierdie ervaringskennis waarin ons moet groei! Dít is wat ons ten volle moet begryp. Hierdie begrip is dus juis bokant ons menslike begrip, want ons kan tog onmoontlik die diepte of die hoogte van Christus se liefde in ons meet! Dit is dat ons in ons geestesoog die heerlikheid van Christus ervaar, en in ons gees-mens ervaar wie God werklik is: hoe groot en wonderlik Hy werklik is, en hoe klein, nietig en afhanklik ons werklik is. Dít is ook die kern van aanbidding. Want ons kan al die (kop)kennis hê, maar as ons nie die liefde het nie, is ons niks (1 Kor 13:2). 4
Die volgende vers sê daarom ook: (19) en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, Dit klink op die oor af soos n teenstrydigheid. Want hoe kan ons iets ken wat ons kennis oortref? Dit is omdat dit van twee soorte kennis praat. Menslike- of verstandskennis is beperk en gebroke. Maar eerstehandse kennis van Christus se liefde is geestelik, en oortref alle menslike- of verstandskennis! As mens nog nie op die punt kom waarin jy die beperktheid van jou eie menslike verstand sien nie, dan het jy nog nie by die ware ervaringskennis gekom nie. As jy n openbaring het van Christus, dan gaan jou geestelike oë oop vir wie God is en vir wie jy is, en vir hoe beperk jy is. Dit is net God se Gees en sy krag wat hierdie dieper insig en gewaarwording oor God en jouself in jou kan bewerkstellig. Terloops, dit verskil van kennis van die mistieke. In gnostisisme word jy innerlik verlig deur jou eie siel, en word jy ingelyf in die misteries van die ware kennis van die elite. Mistieke kennis het n aantrekkingskrag omdat dit anderkant die gewone is, maar is ten diepste gewortel in bose kennis wat teen God gekant is, wat ditself voordoen as goddelike kennis. Dit is waaroor innerlike verligting in die okkulte en in New Age ook gaan. Dit verheerlik op die ou end die mens self. (19) sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. Die woord volheid (plerôma) saam met die werkwoord vervul (πληροώ) dui op volledigheid en voltooiing. Dit is soos n profesie wat in vervulling gaan! Ons word slegs volledig gemaak en voltooi in Christus. Ons moet die nabyheid van Christus ervaar! Ons kan nie bly by wedergeboorte nie; ons moet ook n openbaring van Christus en van sy liefde in ons gees hê. Anders gaan ons nie voort tot die volmaaktheid nie soos Heb 6:1 sê. Dan is dit so goed ons bly by die melkkos en die basiese dinge van die geloof (Heb 6:1-2). Dit gaan dus ook oor geestelike volwassenheid (Ef 4:13). Geestelike volwassenheid is gegrond in n openbaring van Christus se krag en liefde in ons! Daarsonder sal ons nooit geestelike volwassenheid bereik nie! Hierdie tweede gebed sê dus hoe ons aanbeweeg van wedergeboorte na geestelike volwassenheid: ervaringskennis van Christus! Hoe meer ons hierdie begrip kry van Christus se krag en liefde in ons, hoe meer raak ons bewus van sy inwoning. Deel van hierdie vervulling en volheid wat ons ervaar is dus n groter bewuswording van Christus se inwoning ( indwelling ) in ons. En dit moet lei tot liefde tot die naaste (die liefde waarin ons gewortel en gegrond is, v. 17), want dit is God se hart. As ons eie hart al meer in ooreenstemming kom met God se hart, en as ons n al beter begrip het van Christus in ons en deur ons, moet dit uitvloei in naasteliefde. Hierdie naasteliefde is daarom die praktiese toepassing en die vrug van die Een Nuwe Mens, waar almal voor God gelyk is, en ons alle mense sien as dieselfde voor God, want God is nie n aannemer van die persoon nie. M.a.w., wat posisioneel waar is, moet waar word in ervaring. Wat waar is in Christus in dit wat Hy gedoen het in die skep van die Een Nuwe Mens, moet ook waar wees in die manier hoe ons leef in die gemeenskap van die gelowiges. 5
(20) En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, (21) aan Hom die heerlikheid in die gemeente [en] in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen. Paulus beklemtoon hier dat die liefde slegs moontlik is op grond van Sy krag wat in ons werk! En dat dít wat Christus in ons en deur ons doen, wat ook die praktiese in-werking-stelling van die Een Nuwe Mens insluit, is nie iets wat ons in ons menslike krag kan doen nie. As dit van mense afhang, sal ons nooit as Een Nuwe Mens kan lewe nie. Hý moet dit doen deur sy krag. En Hy kan en Hy wil! Hy doen meer as wat ons kan bid of dink met ons eie beperkte denke. Die uiteindelike doel van ons ervaring van God se krag, liefde, en die volheid van God, is sy eer en heerlikheid! Maar dit is interessant. Die heerlikheid in die gemeente word eerste genoem, en dan die heerlikheid in Christus. In die Grieks is daar n kai : en in Christus. Paulus prys God vir hierdie kerk, hierdie Een Nuwe Mens, wat God se skepping is. Dit is ons as liggaam wat Christus se heerlikheid vertoon. Ons as Christus se liggaam is die skeppingsdoel van die mens! Dít verheerlik God! Hoekom? Want Hy woon in ons, die liggaam (v. 17). Christus se heerlikheid is daar om deur die liggaam van Christus, deur mense, gereflekteer te word! Dít is God se doel met die skepping en met die mens tot in ewigheid! Philip du Toit 6